WIE IS SKY OCEAN
Sky Ocean het een van daardie stemme wat jou in jou spore laat vassteek wanneer jy haar vir die eerste keer hoor sing. Daar is hoendervleismooi emosie en ’n strelende klank in haar stem wat jou uitnooi om verlore te raak in haar musiek. Dit is dan ook hierdie eienskappe wat haar derde enkelsnitvrystelling, BLACKHOLES IN MY HEAD, so besonders maak. 

BLACKHOLES IN MY HEAD is ’n moderne ballade met ’n pop-rock-aanslag. Hierdie ballade is in Australië geskryf in samewerking met Byron Keno en bevraagteken al die onbeantwoorde vrae wat daar oor liefde bestaan. Al daardie dinge oor die liefde wat niemand verstaan nie. “Somtyds gee jy jou alles vir iemand of iets nog voordat julle amptelik ’n paartjie is. Jy leer nie eers hoe om te vlieg voordat jy val nie, jy vat ’n kans en laat net gaan met ’n hart vol hoop en vertroue dat dit sal uitwerk. Wanneer dit ’n week later nie uitwerk nie, beweeg die persoon so vinnig aan en jy sit met die gebroke hart, kop vol gedagtes en ’n gekneusde selfbeeld. Ek was verlede September juis self in hierdie bootjie en my ervaring was ook die inspirasie agter die liedjie,” verklap die talentvolle sangeres en liedjieskrywer oor haar nuutste vrystelling. “Ek dink hierdie is ’n boodskap waarmee luisteraars sal kan vereenselwig. Liefde is ’n ontasbare ding wat jy voel maar nie kan vat nie, wat sin maak maar tog ook nie, maar mense is nie liefde nie. Mense voel net lief. So dis eintlik mense wat ons nie verstaan nie. Dis gekompliseerd, maar mens kan nie mense vergelyk met liefde nie. Aksies praat harder as woorde.”

Die musiekvideo van die enkelsnit word ook binnekort vrygestel en is in ’n huis verfilm wat op die Johannesburgse middestad uitkyk deur Kyle White TV. “Dit gaan oor ’n onstuimige liefdesverhouding, waar die paartjie ’n liefde-haat-verhouding ontwikkel. Waar hulle eens so verlief was (herinneringe), kan hulle mekaar nou skaars uitstaan. Die mooi het seer geword.  Tog kom hulle altyd weer terug na mekaar toe, want al is dinge onrustig voel hulle steeds veilig by mekaar,” sê sy. “Op ’n stadium in die video voer ek ’n stryd met myself, want ek weet wat ek voel is liefde en hy bly basies vir my sê dat my pogings nie goed genoeg is nie. Dit maak my hartseer en kwaad op dieselfde tyd.” Kyle het die storiebord opgestel en die projek bestuur. Sy vrou, Chanel, was die grimmeerkunstenaar en my akteursvriend, Thiardt Roetz, het teenoor my in die video gespeel.

BLACKHOLES IN MY HEAD is deel van Sky Ocean se debuut-album, Spore Van My Hart, ’n kontemporêre opname wat haar veelsydigheid as sanger en liedjieskrywer ten toon stel. Dit bestaan uit ’n verskeidenheid Afrikaanse en Engelse snitte, in verskillende style, wat verseker dat dit aan elkeen se smaak sal voldoen. Juan Boucher het die eerste drie liedjies, Retrospek van Liefde, Ek Soek Krag By Jou en Wees Wie Ek Wil Wees en Byron Keno het gehelp om Altyd Beter te voltooi, terwyl sy self haar slag met woorde bewys met liedjies soos Verkeerde Liefde en Ek Breek My Eie Hart. “Sedert ek self begin skryf het, het ek meestal oor my eie ervarings en gedagtes oor sekere dinge en mense se stories geskryf. So ek voel dis maar ’n pad wat ek saam met myself en my hart gestap het. So elke verhaal en situasie het spore agter gelaat in my hart en dis hoekom ek op die titel besluit het,” vertel sy. “Dit is ’n tweetalige album en net so gemeng soos ons land se reënboognasie is.”
 
WIE IS SKY OCEAN (vervolg)

Volgens haar, is die liedjie Shooting Star ook geskryf vir en geïnspireer deur dieselfde persoon as haar nuutste enkelsnit. Dit is in Australië opgeneem en vervaardig deur Byron Keno en het ’n tipiese Santana (uit die tagtigs)-gevoel en ’n popaanslag, wat elemente van Jazz, Pop en Blues bevat. “Ek dink ons dames het baiekeer die geneigdheid om onsself vas te vang in
lms, boeke en hoe ons dink feëverhale moet wees en moet eindig, maar dis nie noodwendig realisties nie. So ons is almal maar net opsoek na ’n verskiettende ster wat al ons wense, drome en fantasie oor liefde gaan laat realiseer,” sê sy oor die betekenis agter dié treffer.

Vlekke, wat baie potensiaal het om gewild te wees onder luisteraars, is ’n lekker liedjie vir die langpad en gaan oor die mense en situasies wat vlekke op jou lewe los, waarvan jy nie sommer gou sal vergeet nie.

Daar is nie vir haar ’n spesifieke oomblik wat sy besef het dat sy ’n musikant wou word nie en meen dat dit iets is wat net nog altyd daar was. Sy kon immers sing voordat sy kon praat en oor die jare het haar passie vir musiek net meer-en-meer gegroei. Sy spog met ’n graad vyf musiekkwalifikasie van UNISA, asook graad ses stemopleiding van Trinity London College en graad sewe stemopleiding van Rockschool. Na twee jaar in die musiekbedryf, sonder sy die voorreg om saam met Juan Boucher en Byron Keno te kon werk as groot hoogtepunte uit. Verder is sy reeds ’n gereelde gesig by feeste soos Innibos en het sy al ’n draai op die musiekprogram, JAM, gemaak. Een van haar liedjies is ook ingesluit op die Afrikaans, Jou Lekker Ding!-DVD.

Die kunstenaar het waardering vir ’n wye verskeidenheid musiek (veral uit die tagtigs en deur Demi Lovato) en beskou die internasionale ster, Demetria Devonne Lovato, as een van die grootste invloede op haar eie outentieke musiekstyl. “Dit sal vir my ’n groot voorreg wees om in die toekoms saam met kunstenaars soos Elvis Blue en Die Heuwels Fantasties te werk”, deel die sangeres.

As jy haar vra waar sy die inspirasie vir haar lirieke vandaan kry, antwoord sy dat dit soms van persoonlike ervarings of uit ander mense se stories kom, maar dat sy net iets kan sing as sy haar eie hart daarvoor oopmaak. Sy verklap ook dat sy oorspronklik teologie wou gaan studeer het, maar dat die Here ’n ander plan vir haar gehad het.

Daar is nog baie wat sy in die toekoms wil bereik en sy is nie bang om groot te droom nie. “Ek sal graag met BLACKHOLES IN MY HEAD internasionale status wil bereik, selfs platinum as ek kan en hoop dat ek ook benoem sal word vir toekennings vir hierdie liedjie. Ek skiet vir die maan, en wie weet, dalk eindig ek dalk nog tussen die sterre op. Daar is nie ’n ander opsie as musiek nie, geen plan B nie,” deel sy. 

Die musiekbedryf het haar geleer dat harde werk, uithouvermoë en geduld die sleutelbestanddele is tot sukses en dat jy nooit in jouself moet twyfel nie. BLACKHOLES IN MY HEAD is nie net ’n bewys van Sky Ocean se uitsonderlike talent nie, maar gaan beslis ook vir haar ’n permanente plek in die harte van Suid-Afrikaanse musiekliefhebbers en op die treffersparades van die land se grootste radiostasies vestig.
 
Musiek
Binnekort beskikbaar op iTunes en Google Play.
 
Hou die spasie dop vir toekomstige optredes.
Optredes
 
 
Nuus
Besprekings
 
PERSOONLIK
KONTAKBESONDERHEDE
ORGANISASIE BESONDERHEDE
VENUE BESONDERHEDE
KOMMENTAAR
Click for new image
Sosial Media
Facebook
Instagram